Circle City Info

“WEG” Nuwe Kortfilm uit Welkom

Plaaslike talent uit ons eie gemeenskap is weer ontgin en almal het hulle uiters goed van hulle taak gekwyt. Akteurs was vir bykans ‘n jaar lank onderrig in hulle verskeie karakterrolle. Met die Covid-19 pandemie was daar ook die uitdagings om steeds hulle onderskeie karakters te leer ken en om dit ook getrou te kan weer gee.

"WEG" Nuwe Kortfilm uit Welkom

‘n Splinternuwe Afrikaanse kort film word eersdaags weer plaaslik vrygestel. Hierdie naelbyt kort film, WEG is ‘n plaaslike kort film produksie wat onlangs hier in die Goudvelde geskiet is. WEG is die tweede Afrikaanse kort film wat plaaslik vervaardig is en dit kom weer uit die pen van die Welkomse skrywer, Pieter Bonthuyzen.

WEG is ‘n bewusmakingsprojek wat hierdie keer die kollig op ontvoering en mensehandel plaas. Ontvoering en mensehandel is ‘n kommerwekkende werklikheid, wat nie net in ons land nie, maar ook hier in ons eie gemeenskap ‘n werklikheid is. Bonthuyzen wil juis deur hierdie kort film projek ‘n dringende beroep op inwoners van ons gemeenskap doen om meer waaksaam, paraat en verantwoordelik op te tree. Jou eie veiligheid is ook JOU verantwoordelikheid. Dit gaan oor ons eie keuses en aksies.

WEG handel juis oor ‘n groepie vriendinne wat heel onskuldig in die kloue van gewetenlose ontvoerders beland. Kykers kry die geleentheid om agter die skerms van hierdie misdaadstransaksie in te loer. Met verrykende gevolge, word hierdie meisies wel weer opgespoor, maar…

Om die res te weet, moet fliekflooie maar wag totdat die kort film vrygestel word.

Pieter Bonthuyen van Twins Kort Film Produksies het reeds teen die einde van 2019 die draaiboek voltooi en die produksie begin beplan. Aanvanklik sou die film reeds teen April 2020 geskiet gewees het, maar weens die Covid-19 pandemie moes alles noodgedwonge uitgestel word.

Die produksie is weer in Oktober 2020 hersien en is toe weer met volle vaart en entoesiasme aangepak. Plaaslike videograaf, Maverick Van Aswegen van Maverick Productions is by die projek betrek om die verfilming te behartig. Van Aswegen is inderdaad ‘n begaafde videograaf en die film materiaal van hierdie kort film is van uiters hoë gehalte en dit behoort ook nie terug te staan vir enige ander film produksie nie.

Plaaslike talent uit ons eie gemeenskap is weer ontgin en almal het hulle uiters goed van hulle taak gekwyt. Akteurs was vir bykans ‘n jaar lank onderrig in hulle verskeie karakterrolle. Met die Covid-19 pandemie was daar ook die uitdagings om steeds hulle onderskeie karakters te leer ken en om dit ook getrou te kan weer gee.

Wat die WEG produksie so merkwaardig maak, is dat die kort film weereens met ‘n beperkte begroting van slegs sowat R15 000.00 vervaardig is. As ‘n mens kyk na die totale rolverdelings, ekstras en filmspan wat byna 50 mense insluit, is hierdie produksie inderdaad ‘n wonderwerk. Met 14x Akteurs, 20x ekstras, 6x ER24 personeellede en 6x SAPS lede, 1x videograaf, 1x klankman en ‘n taalversorger, bring dit die totale WEG produksiespan op 49.

Met die insluiting en hulp van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ER24 Nooddienste, is WEG waarskynlik een van die grootste kort film produksies wat op die Ondie-vlak hier in ons midde vervaardig is.

Ons het soveel ondersteuning gehad van instansies, borge, crowdfunding beleggers en die gemeenskap. Wat vir my op ‘n stadium te groot gevoel het, het uiteindelik begin vorm aanneem en het gebeur soos dit moes. Ons was so geseënd met hulp en bystand van verskeie persone, organisasies en instansies. Selfs die weer het saamgespeel,” sê Bonthuyzen.

Mirna de Hart is die Uitvoerende Vervaardiger van WEG, terwyl Pieter Bonthuyzen die draaiboekskrywer en reggiseur is. Maverick Van Aswegen is die kinematograaf en is ook betrokke by die finale na-produksie van die kort film. Sy besondere oog en vlak van perfeksionisme, maak hom beslis ‘n aanwins in hierdie produksiespan.

WEG word op 11 Desember 2020 tydens ‘n spggerige Première-aand in Welkom bekend gestel. Die geleentheid word by Salt & Pepper in Welkom aangebied en slegs ‘n beperkte aantal kaartjies (360) sal beskikbaar wees. Covis-19 regulasies geld steeds en ondersteuners word aangemoedig om steeds veilig te wees.

Kaartjies vir hierdie première aand beloop slegs R70.00 vir volwassenes en R40.00 vir kinders onder 16.

Belangstellendes wat graag hierdie spoggeleentheid wil bywoon, kan kaartjies aankoop by Pieter Bonthuyzen. Bonthuzyen kan gekontak word op 064 686 0959.

Nou Praat Jy - Leave your Comments

Follow Us

Recent Posts

Follow Us

Take-Aways.co.za
Disinfecting Services Goldfields Welkom
Website Design & Digital Marketing
error: Content is protected !!
Welkom City Stad FB Page